Wat kom ná Siener?

deur F.H. Pretorius

INLEIDING

Hierdie boek het 'n redelike interessante voorgeskiedenis gehad. Ek was besig om 'n publiseerbare indeks van Siener se visioene saam te stel toe ek agterkom dat ek eintlik met iets anders besig was ook. Hierdie agterkop-gedagtes het my naderhand só vasgegryp dat ek uiteindelik moes stop en dit eers uitsorteer. En toe kom ek agter dat ek so tussen-in eintlik besig was om 'n heel ander boek saam te stel. Hierdie tweede boek is dan ook nie bedoel om bloot 'n verdere uiteensetting van die visioenêre verhaal te wees nie, want die beplande indeks sal dit ondervang. Die verhaal staan uiteindelik vir meer as bloot net 'n waarskuwing en bemoediging vir 'n volk onder beleg - dit het 'n dieper betekenis, en dié moet eerste en baie dringend aangespreek word.

Ek glo dat hierdie boek baie gemakliker sal lees as die vorige een. Dit is meer op die punt af en die aard van die onderwerp maak kruisverwysing oneindig makliker. Die vorige boek was natuurlik nooit as die gewone soort leesboek bedoel nie. Dit was eerder daarop gemik om die ware aard en betekenis van die visioene oop te maak en die nodige bewyse daarvoor te lewer. Dit moes verder ook 'n verwysingsraamwerk skep en vestig waaroor ons mense nie beskik het nie. Hierdie boek begin met 'n kort en duideliker opsomming van die Unieverhaal, maar die doel was nie om maar net nóg 'n boek oor die visoene te skryf nie. Die wêreld stop nie by Siener van Rensburg nie en ons moet verby sy visioene begin kyk na wat daarná kom. Hierdie boek en sy voorganger vorm dus 'n intieme eenheid en die leser sal daarom vind dat Deel I hieronder 'n natuurlik brug tussen die twee boeke vorm.

Die betekenis van die visioenêre verhaal plaas 'n groot verantwoordelikheid op elke mens in die wêreld, maar dan baie bepaald op ons volk. Elkeen sal moet kies waar hy of sy wil wees en dit sal nou gedoen moet word. En dit is nie asof ek daarop aandring nie, want die eis lê in die betekenis van die verhaal en die implikasies wat daarmee saamgaan. Die Gees is die Outeur van hierdie verhaal en die eis kom dus van Hom af. Hy het nie hierdie profesie gegee om ons nét teen 'n bedreiging te waarsku nie, maar wel om ons te begin voorberei vir die Goddelike langtermyn doel met ons volk daarna. Hierdie doel lê in die fynskrif van die Gelofte van Bloedrivier opgesluit. Dit was 'n kontrak wat die Trekkers met Hom aangegaan het en Hy het Sy kant onmiddelik gebring en hulle van uitwissing gered. Die Huis, oftewel die volk wat hulle belowe het om te stig, moet egter nog hul deel hiervan uitvoer. Ons maak 'n baie groot fout om te dink dat óns deel van daardie ooreenkoms maar net uit 'n plegtige jaarlikse seremonie bestaan.

Die stigting van 'n volk aan die suidpunt van Afrika het nie doelloos in 'n vakuum plaasgevind nie. Die skeiding wat die Groot Trek in daardie volk gebring het, het 'n groep afgesonder om 'n spesiale taak in Koning Jesus Christus se diens te verrig. Die dag van 16 Desember 1838 was in werklikheid die geboortedag van die Boervolk, want die oorwinning oor die heidense magte het die Boervolk ingeseën en bevestig as die Nuwe Testamentiese Verbondsvolk. En die doel hiermee? Ou-Israel was die volk deur wie Hy die toekomstige Koninkryk aangekondig het en die Volk wat die Trekkers belowe het om te stig sal die ankerpunt en basis van daardie Koninkryk vorm. Dit is nie net individue wat 'n roeping ontvang nie, dit gebeur met individuele volke ook.

Die wêreld glo nie hierdie dinge nie, maar anders as die wêreld glo die Satan dit ten volle en daarom die voortdurende poging om ons te verkneg en uit te wis. Die breinspoeling en verdagmakery om ons los te maak van wie en wat die Gelofte van ons gemaak het kom dan juis van hom af. Die aanslag teen ons was wreed en dit het so lank geduur dat baie van ons volksgenote hieraan begin twyfel het. Baie van hulle het hul herkoms en die toekoms waarop dit gemik is verwerp, en het afgedraai op die gladde ideologiese dwaalweë van hierdie wêreld. Maar die betekenis van die Gelofte staan vas, ten spyte van ons ongelowigheid en hardkoppigheid. Ons Vader in die Hemele, die Opper-Koning wat ook oor die Satan heers, wou dit so gehad het en daarom sal die vyand nooit die kern van hierdie volk kan oorweldig nie.

Ons word deur God Almagtig beskerm, solank ons natuurlik bereid is om daardie beskerming in nederige onderdanigheid te aanvaar en te erken. Die gouste en maklikste manier om onder dit uit te beweeg is om te begin swig voor die persepsie wat die vyand probeer skep dat ons magteloos en van hul goeie guns afhanklik is. Hierdie soort ongelowigheid lei ons om dinge in eie krag en vir blote tydelike gewin te begin doen. Die bedreiging teen ons kom in werklikheid vanuit uit twee groepe: ons moenie onsself blindstaar teen die ooglopende gevaar rondom ons nie, ons moet veral ook bedag wees op die gevaar van binne. Die voertuig hiervoor is die sogenaamde nasionalistiese politiek en sekere afwykende godsdienstige onderstrominge. Politiek, in enige vorm het altyd te doen met selfsugtige eie-belang. Dit wil lei deur voor te skryf, te beheer en te oorheers, en dring in die proses op 'n hardkoppige wyse aan op self-doen – dit wil sélf die stuurwiel vashou, sélf die argitek van die toekoms wees. Dit stel iets anders in die plek van Koning Jesus Christus as ons enigste hoop op uitkoms en 'n standvastige toekoms. Die teenoorstaande hiervan is egter méér as net 'n politieke term, want die begrip “opregte Godgerigte nasionalisme” sê baie meer as bloot wat hier staan. Dit is tegemoetkomend en sag, maar terselfdertyd ook oneindig sterk, want dit het diepte. Dit soek nie eie belang alleen nie en wil nie oorheers nie; nie eers oor die eie nie, om van ander groepe nie eers te praat nie. Dit kan ook nie, want dit buig vrywilliglik voor 'n Hoër Gesag – dit soek trouens daardie gesag oor eie wil, want dit weet daardie Gesag heers oor alles en almal. Dit kan nie anders as om so te wees nie, omdat die basis daarvan in Mat 5 lê, maar dan ook omdat dit vanuit naasteliefde aan al die vereistes vir leierskap voldoen. Koning Jesus Christus het nie maar net gekom om die Evangelie van die Koninkryk van die Hemele te kom verkondig nie, Hy het dit in werkliheid kom proklameer en in die proses het Hy ook die Goddelike vereistes vir leierskap kom verduidelik. Hy het ons deur voorbeeld kom leer dat leierskap altyd op diensbaarheid aan die naaste moet fokus - dit moet dien in plaas van om gedien te wil word! Mat. 5 is dan ook meer as net 'n paspoort na Sy Koninkryk, dit is in werklikheid 'n sleutel wat alle deure na daardie Koninkryk oopsluit – en ook dié van menslike leierskap. Dit is 'n opsomming van die Koning se vereistes vir toelating tot die Koninkryk van die toekoms, maar dit is ook die absolute basis van ons eie nasionalisme. Ons moet egter versigtig wees hier, want die moderne teologie het hierdie begrip stilweg verander in 'n morele papheid wat willoos en onvoorwaardelik wil gaan lê voor die eise van die humanisme en internasionale liberalisme.

U gaan 'n paar dinge in hierdie boek lees wat u miskien nog nooit van gehoor het nie en wat u dalk dink nie moontlik kan wees nie. Ons gaan byvoorbeeld na een of twee antieke legendes kyk en dit met die logiese eindpunt van die visioenêre verhaal rekonsilieer. Daar sal verseker mense wees wat sê dat ook hierdie boek maar net die skrywer se persoonlike sieninge weerspieël en daarom nie aanvaar hoef te word nie. Dit is 'n baie geldige argument, maar dan moet die kritici darem ook een of twee belangrike punte sáám met dit in ag neem. Die roeping wat ek ontvang het om Siener se visioene te ontrafel lê ingebed in my spesifieke verwysingsraamwerk. Ek het nie hiervoor gevra nie, maar toe dit kom moes ek dit hanteer en daaraan gehoor gee. Dit beteken dat alle aannames, bevindinge en afleidings waartoe ek geraak het met my volle menswees en al my lewensondervinding koppel. Ek sal die eerste mens wees wat die feilbaarheid hiervan erken, maar dan moet ek ook uitwys dat daar 'n kwalifiserende faktor ingebou is hierin wat heeltemal buite my beheer lê. Dit bestaan uit die mate waarin ek kon slaag om sekere minimum kriteria te bevredig wat my kwalifiseer om die stellings wat ek maak te kán maak. Ons kyk hier na aspekte soos die bymekaarbring van visioenêre verwysings, die interne balans tussen hierdie feite en die verhaaltjies wat dit vorm, en les bes, doodgewone logiese argument en gevolgtrekkings. Die finale toets is natuurlik die toets van die tyd, maar tot dan toe kan ons dit net teen die situsie rondom ons meet. Hierdie situasie is tans besig om in presies die regte rigting te ontwikkel om die visioenêre verhaal meer as net 'n sterk moontlikheid te maak. Dit is iets waaroor ek ook geen beheer het nie. Hoe kan enige normale mens iets so deurmekaar soos Siener se visioene binne enkele jare in eie krag uitsorteer en in 'n sinvolle geheel saamvoeg? Want my kritici kan sê net wat hulle wil, Siener se visioene ìs uitgesorteer en verstaanbaar gemaak. Dit is inderdaad iets besonders, maar ek het niks om oor te roem nie. Ek is die man wat die werk gedoen het en niemand weet beter as ek dat die krediet daarvoor volledig aan die Gees behoort nie.

Die inligting in hierdie boek koppel inderdaad met my volle ervaringswêreld. Dit het nie gebeur omdat myne besonder spesiaal is nie, maar wel omdat die Gees toegelaat het dat 'n man se volle lewenservaring bymekaar kon kom om op een enkele punt te fokus. Letterlik alles wat ek weet kom op die een of ander manier in hierdie boek bymekaar. Ek is nie meer spesiaal as die volgende mens nie, wat beteken dat enige ander persoon netsowel hierdie roeping kon ontvang het. Ek is verder nie die enigste mens wat al 'n roeping uit die Bybel ontvang het nie - elke gelowige ontvang so 'n roeping, en myne was maar net baie duidelik omlyn gewees. Maar dit sê vir my dat ons lewens nie maar net met allerhande toevallighede besaai is nie – ons lewens word van Bowe gerig om die een of ander funksie in die groter opset rondom ons te verrig. Die leser moet in elk geval maar vir homself besluit wat my bydrae in hierdie boek werd is. Al wat ek in hierdie verband kan getuig is dat dit, soos die vorige een, deur die Gees geïnspireer en gevorm is.

Sommige lesers mag dalk half teleurgesteld voel oor die opsomming van die visioenêre verhaal hieronder. Dit is dan so kort en lyk so min! As dit so is vra ek nederig om vergifnis, want ek kon dit nie anders of beter doen nie. Dit is in elk geval al wat daar is. Ek het in die vorige boek gesê dat die verhaal en die simboliek eintlik verstommend eenvoudig is as 'n mens dit eers eenmaal verstaan en dit kom duidelik na vore hieronder. Ek wil egter ook pleit vir geduld en genade, want net so eenvoudig as die verhaal is om te verstaan, net so moeilik is dit om die feite in hul presiese korrekte plekke agtermekaar te kon kry – en ons het nog 'n entjie om te gaan voordat ek heeltemal tevrede met die resultate sal wees. Ek weet nie wat eerste gaan kom nie, die derde boek of Siener se oorlog nie, maar wat ek wel weet is dat ons nou, selfs op hierdie stadium, oor genoeg profetiese inligting beskik om 'n katastrofe te kan ontkom. Die derde boek kan dus baie interessant wees, maar is daarom eintlik nie eers meer belangrik nie.

Die werk aan die fyn detail van die visioenêre verhaal is redelik vêr gevorder en sal so gou moontlik as 'n derde boek gepubliseer word. Dit sal, op hierdie stadium in elk geval, die vorm aanneem van 'n “verhalende indeks” waarin die individuele verhaaltjies sover moontlik in hul visioenêre vorm aangetoon word. Ek het elke moontlike manier van voorstelling die afgelope dertien jaar uitprobeer en het uiteindelik gevind dat so 'n indeks die beste moontlikhede hiervoor bied. Dit kan dalk net 'n baie lekker speelding word hierdie, want dit sal die leser in staat stel om die verhaal in sy visioenêre vorm vir homself te kan uitsorteer.

Ek kan nie hierdie boek aan my volk aanbied sonder om die Heilige Gees se besondere hulp en bystand daarmee te onderstreep nie. Hierdie is nie die soort raaisel wat ons op eie stoom met ons beperkte vermoëns kan ontrafel nie. U gaan die opsomming van die Unieverhaal hieronder lees en dan gaan u meteens begin verstaan waaroor Siener van Rensburg se visioene gaan. Maar u gaan ook die rés van die boek lees, en aan die einde daarvan sal u ook ten volle verstaan wat die visioenêre verhaal in sy diepste wese beteken. Ek wil u vra om op daardie punt vir Hom dankie te sê vir hierdie wonderlike voorreg, want dit is Sy storie hierdie, nie myne nie. Hy het dit saamgestel en aan Siener van Rensburg gewys, en hier het Hy dit na amper 'n honderd jaar weer vir u leesbaar en verstaanbaar gemaak. Gee dus vir Hom die krediet en die eer, want Hy is die Een wat dit verdien. Dit is in elk geval wat ek ook maar doen – ek staan maar nét so verwonderd soos u voor soveel genade en ondersteuning. Ons sal wel eendag ons oë opslaan en verstaan dat Koning Jesus Christus die woorde in Ps. 124 vir ons waar gemaak het.

F.H. Pretorius,
Bloemfontein.
Maart 2008.