WAT IS DIE WAARHEID?
UITTREKSELS


Die inligtingstuk hieronder bestaan uit twee uittreksels uit die boek om die leser 'n nóg beter idee te gee van die strekwydte van die boek. Ek moet hier byvoeg dat die leser nie te gou moet skrik vir die soms vreemdklinkende simboliek wat u in die inligtingstukke raakloop nie. Anders as wat algemeen aanvaar word is die simboliek eintlik baie eenvoudig en maklik om te verstaan, want dit word ten volle deur die gang van die verhaal verduidelik. Die verhaal as sulks is dan ook ongelooflik eenvoudig - maar eers sodra jy begin verstaan waaroor dit gaan, natuurlik. Die lekker van hierdie verhaal is dat dit ook nie nodig is om enigiets daarvan te probeer "uitlê" nie, want die verhaal, en die simboliek wat daarmee saamgaan, verduidelik homself ten volle. Selfs 'n senior laerskoolkind sal die algemene verhaal gemaklik kan volg as hy of sy eers verstaan hoe die Heilige Gees dit aanmekaar geweef het.



Uittreksel 1

Uittreksel 2




Uittreksel 1.

ALGEMENE INLEIDING.

Baie min mense het ooit die verbeelding van die Afrikanervolk só aangegryp as Siener van Rensburg. Hy het tussen die jare 1899 tot 1926 'n visioenêre voorskou ontvang van wat die toekoms vir die wêreld inhou. Hy is reeds in 1926 oorlede, maar die blote noem van sy naam lok tot vandag toe steeds reaksie uit. Dit vind in ons tyd veral neerslag in die wyse waarop sy persoon en die visioene wat hy aan ons nagelaat het by die politieke vraagstukke van ons tyd ingesleep word. Sommige mense sê hy was 'n waarsêer. Oor die jare het hulle gespot met die gedagte dat hierdie eenvoudige ou plaasboer werklik 'n profeet kon wees. As bewys word dit dan gestel dat niemand werklik kop of stert van sy visioene kan uitmaak nie, én dat sy "voorspellings" in elk geval nie haalbaar is nie. Hulle sê, en hierin is hulle is heeltemal reg ook, dat die enigste substansiële bewyse daarvoor maar net is wat daarvan gesê word. Dit ís uit die aard van die saak geen bewys nie. Ander mense was daarenteen weer oortuig daarvan dat hy inderdaad 'n profeet van God was. Die vraag is na al die jare dus nog steeds: Wat is die waarheid, en wat is nie?

Die kwessie is oor die jare wel deeglik aangespreek, sonder dat daar werklik ooit enige antwoorde gekom het. Die belangrikste redes hiervoor was dat daar so min kwaliteit inligting oor die Siener beskikbaar was, en veral oor die visioene self. Hierdie situasie het egter radikaal begin verander in die vroeë 1990's. Die Siener het 'n vertroueling gehad met die naam van Boy Mussmann met wie hy sy gedagtes gedeel het. Hy het sy herinneringe neergeskryf, en dit het daartoe gelei dat hy sowat ses duisend bladsye inligting aan ons nagelaat het oor die Siener, die visioene en die tydsgewrig waarin hy geleef het. Hy het dit in die hande van sy dogter, mev. N. van Zyl, oorgegee om te bewaar vir die nageslag. Sy het die aantekeninge tot die beskikking van die bekende navorser prof. A.W.G. Raath van Bloemfontein gestel, en dit het gelei tot die publikasie van twee boeke oor die onderwerp. Hy het die aantekeninge gebruik as basis vir sy navorsing oor oom Niklaas as mens en sy loopbaan as 'n Siener. Sy navorsing het bewys dat Niklaas van Rensburg nie net 'n besonderse fyn gelowige was nie, maar dat hy inderdaad 'n profeet van God in eie reg was.


Die doel met hierdie boek.

Hierdie boek spruit voort uit 'n roeping wat in 1994 vanuit twee gedeeltes in die Bybel tot my gekom het, en wil as 'n inleiding dien tot die sinvolle ontsluiting van die visioene wat Niklaas van Rensburg aan ons beskryf het. Die visioene is oppervlakkig gesien heeltemal onverstaanbaar, maar wie het ooit kon dink dat daar etlike dosyne samehangende verhale binne hierdie chaos weggesteek is? Die roeping het 'n sekere sleutel aan my verskaf wat uiteindelik gelei het tot die identifisering en beskrywing van minstens die basiese verhaalgroepe wat in die visioene voorkom. Sinvol beteken dat die ontleding in hierdie boek op aanvaarbare wetenskaplike beginsels berus, en dat dit ten volle op die feitelike inligting in die visioene afgestem is. Ek beskou hierdie beginsel as só belangrik dat 'n groot deel van hierdie boek aan 'n gedetailleerde beskrywing van my werksmetode gewy word, asook die tegniese aspekte wat in die visioene aan die werk is. Die leser sal baie gou agterkom dat Siener van Rensburg alles behalwe 'n "flentergat profeet" was.


Die boek poog om veral vier doelwitte te bereik.

(a) Om die verhale in die visioene oop te maak en te begin verduidelik. Hierdie verhale handel in die geheel oor die komende Derde Wêreldoorlog en die gevolge wat dit vir die wêreld inhou.

(b) Om bewys te lewer dat hierdie visioene inderdaad deur God Almagtig ingegee is en dat dit nie die produk van 'n oorryp verbeelding is nie. Dit is baie waar dat enige redelike intelligente persoon 'n storie soos hierdie kan uitdink, maar dan is dit net so waar dat geen mens dit op hierdie unieke wyse kan saamstel nie.

(c) Die boek streef daarna om die baie direkte verband aan te toon tussen die betekenis van die visioenêre verhaal en die geestelike druk wat sedert Gen. 3:1 teen die gelowige opgebou het.

(d) Die boek streef ook daarna om die duisende stories en stertjies wat aan hierdie visioene geheg word hok te slaan. Die grootste enkele tegniese kenmerk van die verhaal is dat die vertelwyse daarin baie swaar op suggestiewe verwysing steun om inligting oor te dra. Dit maak die visioene ongelukkig wyd oop vir subjektiewe interpretasies. Hierdie werkswyse is heeltemal onaanvaarbaar, want dit lei onafwendbaar tot uitlegte wat altyd, maar altyd, baie ver van die waarheid en werklikheid verwyder is. Die ironie hiervan is dat niemand teen hierdie "uitlegte" kan stry nie. Niemand weet wat die visioene werklik vir ons wil sê nie, omdat niemand nog ooit probeer het om aaneenlopende verhale in die visioene te soek nie. Ek wil my hier veral uitspreek teen die wyse waarop die visioene van Johanna Brandt die afgelope paar jaar met die Siener se verhaal verstrengel geraak het. Dít is nie meer uitleg nie maar inleg en dit móét ontbloot word vir wat dit werklik is. Dit is nie net 'n belediging vir die Gewer van Siener en Brandt se visioene nie, maar skep ook die gevaar om onnodige paniek en militante verset by die blanke aan te wakker.


'n Wetenskaplike benadering.

Die boek word aangebied as 'n studiestuk wat streng op 'n wetenskaplike benadering berus. Dit beteken dat die werkswyse aan sekere minimum vereistes moet voldoen.

(a) Die werkswyse wat gevolg word moet konstant dieselfde wees en moet deurgaans konsekwent en objektief toegepas word.

(b) Die veranderlikes (simbole) in die visioene moet behoorlik gedefinieer (verklaar) kan word en moet ook deurgaans konstant in betekenis wees. Enige "verandering" in die betekenis van 'n simbool moet daarom duidelik aangetoon en verduidelik kan word. Die rol wat suggestie in die verhaal speel moet veral baie duidelik aangetoon en op 'n visioenêr-feitelike basis bewys kan word.

(c) Die afleidings wat gemaak word moet meetbaar (motiveerbaar) wees. Dit beteken dat die verhaal in die visioene minstens moet ooreenstem met wat die Siener daarvan vertel het.


Die boek bestaan uit ses dele:

(a) Deel 1 handel oor oom Niklaas as mens en Profeet. Hierdie deel steun baie swaar op die navorsing van die skrywer A. W. G. Raath, en neem die vorm aan van direkte aanhalings uit sy werk. Die doel hiermee is om 'n standaardvlak van kwaliteit agtergrond te vestig voordat ons by die visioene self kom. Hierdie kosbare stuk navorsing is in twee publikasies aangeteken, naamlik "Siener van Rensburg en die Rebellie van 1914" en "Die Vierkleur Wapper Weer".

(b) Deel 2 gee meer detail rondom die roeping wat ek ontvang het. Dit is normaalweg 'n baie persoonlike soort saak hierdie, maar ek gee dit hier om alle moontlike twyfel en kontróversie daaroor uit die weg te ruim. Die opdrag vir hierdie werk kom direk van die Gees af en Hy alleen moet die eer en die krediet daarvoor kry.

(c) Deel 3 hanteer die meer tegniese sy van die visioene, en het daarom 'n sekere "akademiese inslag". Hierdie studiestuk is sekerlik nie wat 'n mens as 'n wetenskaplike handboek óf as 'n literêre wonderwerk kan bestempel nie, maar dit poog nogtans om die tegniese sy van die visioene so ietwat te formaliseer. Die leser moet egter óók verstaan dat hierdie baie beslis nie 'n gewone storieboek is nie, en dit vra nog steeds 'n groot mate van ernstige studie. Ek wil daarom ernstig voorstel dat die leser die moeite sal doen om éérs deur Deel 3 te werk voordat u na die opsommings van die verhaal in Dele 4 en 5 gaan. Dit bevat inligting en verduidelikings wat die opsomming van die algemene verhaal baie meer verstaanbaar sal maak.

(d) Deel 4 en Deel 5 bestaan uit 'n algemene inleiding en 'n baie kort opsomming van die visioenêre gebeure in Europa en Suid-Afrika. Dit bevat heelwaarskynlik nie soveel detail as wat sommige mense dalk gehoop het om te kry nie, maar ondervinding het my geleer dat té veel detail op 'n keer neig om tot verwarring te lei. Dit is op die lang duur beter om die wonder van die visioenêre verhaal stapsgewys te betree. Ons moet dit so doen, anders raak Siener van Rensburg so 'n bietjie moeilik om te verteer.


Ek is nie van plan om 'n lang reeks boeke oor hierdie visioene te publiseer nie, maar daar sal minstens nog twee publikasies moét verskyn om die volle waarde van die visioene na vore te laat kom. Die betekenis van die visioenêre verhaal lê op twee vlakke, naamlik die konkrete en die geestelike. Hierdie boek, en sy direkte opvolger, handel oor die fisieke aspekte van Siener se verhaal. Die opvolg-publikasie sal nog meer tegnies van aard as hierdie een wees, want dit handel oor die sinchronisering van die fyn detail wat in die verhaal voorkom. Ek kan nie sê wanneer dit voltooi sal wees nie, maar dit is reeds in 'n gevorderde stadium van ontwikkeling. Dit het oorspronklik deel van hierdie boek gevorm, maar die volume en die spesifieke tegniese voorkoms daarvan het my gedwing om die studiestuk in twee te verdeel.


Daar is egter ook ruimte vir 'n wyer bespreking oor die geestelike betekenis agter die visioenêre verhaal, en sommige aspekte daarvan word reeds in hierdie boek aangeraak. My roeping gaan per slot van sake verder as bloot net Siener van Rensburg, en die fisiese ontsluiting van sy verhaal is maar net die intreevlak daarvan. Ek is nie die eerste mens wat hierdie onderwerp sal aanroer nie, maar die Gees het dit baie pertinent op my hart gelê om weereens die rol en invloed van die sogenaamde moderne teologiese wetenskap onder die soeklig te plaas. Siener het na bewering gesê dat daar 'n groot fout in die kerk van sy tyd was, en hierdie fout lê aan die wortel van die probleme wat ons vandag in die oë staar. Hierdie geestelike onderbou vorm trouens die fondament waarop die visioenêre verhaal op die diepste vlakke van sy betekenis gevestig is. Die basis hiervan lê in die gelykenis van die onkruid wat in die geheim tussen die koring gesaai is, en wat in Mat. 13:24-30 opgeteken staan. Ek verwag nie dat dit 'n baie gewilde onderwerp in sommige kringe gaan wees nie, maar al wat ek vra is dat die leser my kommentaar in die lig van die geheel van die boek sal beoordeel. Dit kan alleenlik na behore op daardie basis geweeg word. Ons het nie meer die tyd om die luukse van teoretiese skaduboks met mekaar oor hierdie dringende gevaar te bekostig nie, want 'n volk los nie haar probleme op deur haar oë vir feite te sluit en maar net daarvan weg te kyk nie. Daar is baie goeie redes waarom ons onsself tans in 'n uiters onaangename situasie bevind, en hierdie onderwerp vorm die basis daarvan.

(e) Deel 6 bevat die opgetekende, asook nege verdere beskrywings van die visioene van Siener van Rensburg. Die oorspronklike hiervan kom uit die boeke "Die Vierkleur Wapper Weer" en "Siener van Rensburg en die Rebellie van 1914", van A.W.G. Raath saam met N. van Zyl. Die visioene in die aanhangsel verskil daarvan in dié sin dat ek die bron-erkennings en kommentare daarby weggelaat het, en dat ek 'n unieke nommer aan elke visioenreël toegeken het. Daar is verder ook 'n hele paar visioene wat gedupliseer is en wat slegs geringe afwykings van mekaar vertoon. Ek het in daardie gevalle slegs díé een wat die meeste inligting bevat aangetoon. Waar die verskille wesenlik van aard is het ek natuurlik albei weergawes geplaas. Die werklike inhoud van die visioene het dus geensins verander nie.


Daar is nog ontsaglik baie werk wat wag, maar so wankelrig as wat hierdie poging dan ookal mag wees is dit minstens die eerste tree in die regte rigting. Op hierdie punt wil ek dit dan ook in alle eerlikheid stel dat ek op geen wyse probeer voorgee dat ek ál die geheime van die visioene volledig ontrafel het nie. Ek kan wel sê dat my afleidings ten volle deur die feitelike inligting in die verhaal ondersteun word, en dit is hierdie inligting wat ek met my volk wil deel.


Die konserwatiewe Afrikaner verkeer tans in 'n staat van diepe depressie oor die haglike situasie waarin ons verkeer. Dit is nie sonder rede nie, want die toekoms lyk inderdaad maar donker vir ons. Dit is daarom die gebed van my hart dat my volk en ons gelowige vriende moed sal skep uit die inhoud van hierdie boek. Dit word gegee om aan te toon dat dit nie werklik nodig is om met hierdie beklemming in die hart te leef nie, ten spyte van die openlike en arrogante bedreiging teen ons. Die verhaal in hierdie visioene bevestig op 'n absoluut unieke wyse dat God Almagtig nog steeds die lot van Sy gelowige kinders op die regte tyd en op die regte manier sal verander. Dit is egter van kardinale belang om te verstaan dat ons menslike persepsies van die regte tyd en die regte manier geen invloed op hierdie proses kan hê nie. En dit sluit veral die polities-geestelike sy van die saak in, of dit nou regs of links van aard en inslag is. Ek moet dan ook vooraf waarsku dat daar iets heel anders in die verhaal opgeteken staan as wat dalk algemeen aanvaar en verwag word.



Uittreksel 2.

DEEL 3 - HOOFSTUK 1:

TEGNIESE UITLEG - ALGEMENE INDRUKKE.

Inleiding.

Die visioene wat in hierdie boek bespreek word is oorspronklik in drie groepe opgeteken, en is deur A.W.G. Raath in Die Vierkleur Wapper Weer saamgevat. Een van hierdie groepe bestaan uit enkele visioene wat deur verskillende individue opgeteken is nadat die Siener dit persoonlik aan hulle meegedeel het. Die leeue-aandeel is egter afkomstig van twee mense wat die visioene op verskillende tye aangeteken het. Die eerste 248 visioene is vanaf Oktober 1913 tot 7 Julie 1916 deur kapt. C.P. Nieuwenhuizen aangeteken, en die visioene daarná deur oom Niklaas se dogter Anna. (Ek het wel sewe beskrywings van visioene wat Boy Mussmann nagelaat het, asook twee verdere visioene wat ene Jan-Petrus aangeteken het hierby ingesluit. Hierdie nege beskryfde visioene kom in Raath se werk voor en kan daarom as deel van die amptelike aangetekende visioene beskou word. Daar kom nóg sulke visioene in sy werk voor, maar ek het om praktiese toepassings-redes met hierdie nege volstaan.)

Hierdie twee mense het elk 'n unieke rol in die aanteken van die visioene gespeel. Nieuwenhuizen was 'n skaapspekulant wat gereeld kontak met albei manne gehad het. Hy het die visioene begin aanteken op versoek van genl. De la Rey, sodat die generaal op hoogte kon bly met wat oom Niklaas gesien het. Díé versoek het verband gehou daarmee dat Siener reeds voor die Vrede van Vereeniging vir De la Rey van die komende oorlog in Europa vertel het, en dat ons volk se vryheid daaraan gekoppel is. Streng gesproke beteken dit egter ook dat sy opdrag verval het met die generaal se dood, enkele dae voordat die rebellie begin het. Die uniekheid van sy rol lê dus daarin dat hy aangehou het om die visioene aan te teken. Die interessantheid hiervan is die feit dat hy oom Niklaas se "tronkmaat" was tydens hul verblyf in die tronk (sien ook [052.01]). Hy was dus uitstekend geposisioneer om die rekord volledig op datum te hou. 'n Mens kan nie help om te wonder of dit ook maar net "toevallig" so gebeur het, en of ons nie dalk hier óók rede het om die Voorsienigheid te dank vir die wyse waarop Hy dinge laat gebeur nie. Die dogter Anna het betrokke geraak nadat oom Niklaas uit die tronk gekom het. Hy het tydens 'n visioen (ook) gesien dat Anna sit en skryf. Dit het hom genoop om haar aan te stel om alles wat hy sien neer te skryf, sodat die nageslag presies sal weet wat hy gesien het. Dit was spesifiek daarop gemik om te verhoed dat die visioene verswelg sou word deur die stories en stertjies wat oor die jare daarby aangelas sou word.


Wat die ontleding van die visioenêre verhaal in hierdie boek betref is dit baie belangrik om te verstaan dat ek NET met die opgetekende visioene werk, en NIKS meer nie. Ek kyk byvoorbeeld nie eers na die opmerkings en bydraes van selfs die Siener se naaste vertrouelinge nie. .....



(NOTA: Die rede hiervoor was dat ek wou verhoed dat enigiets my aandag aftrek van die lewering van 'n objektiewe en getroue verslag van die Waarheid rondom die visioene.)