SIENERVANRENSBURG.CO.ZA


TUISBLAD VAN

F.H. PRETORIUS

 

DAAR WORD BAIE STORIES VERSPREI OOR HOM





maar


MOENIE SO MAKLIK GLO WAT U HOOR NIE!






  Vir die eerste keer ooit 'n objektiewe en feitelike wetenskaplike
ontleding van die versteekte verhaal in die visioene.





Geagte Leser,

Baie welkom hier by ons, en baie dankie vir u belangstelling in Siener van Rensburg se visioene.

Daar is min mense in ons volkslewe wat soveel bespreking veroorsaak het as juis hierdie man. Hy het honderde visioene oor 'n tydperk van sowat 26-jaar gesien wat oor die toekoms van ons volk gehandel het. Sommige mense glo daarin terwyl ander dit summier verwerp. Niemand kan u dus verkwalik as u met meer as net 'n tikkie skeptisisme in die gemoed hier ingeskakel het nie. Ek verkies dit eintlik so, want dit waarborg minstens dat u mooi sal kyk na wat ek oor hierdie onderwerp te sê het.

Siener van Rensburg word in sommige kringe as 'n blote waarsêer afgemaak. Daar is egter stemme, waarvan hierdie webblad een is, wat hom as 'n ware profeet van God beskou. Die Bybel lê sekere vereistes neer in hierdie verband en Siener se lewe en loopbaan as profeet voldoen in alle opsigte hieraan. Die mees basiese hiervan is dat die eer en krediet aan God Almagtig gegee moet word. Siener het nie gehuiwer om dit te doen nie. Die profeet se uitsprake moet egter ook waar word, anders praat hy natuurlik maar net sy eie gedagtes. Daar het egter reeds genoeg van Siener se uitsprake waar geword om hom as 'n ware profeet te kán aanvaar. Die meeste hiervan het tydens die rebelletog van 1914 na die destydse Duitswes na vore gekom, maar daar is veral een van sy profesieë, wat na 'n tydperk ná sy afsterwe verwys, wat onmiddelik die aandag trek.

Dit is miskien nie algemeen bekend nie, maar die algemene verkiesing van 1924 is op sy advies deur genl. Jan Smuts uitgeskryf. Die nasionaliste rondom Siener was nie baie entoesiasties hieroor nie, maar Siener het hulle verseker dat die Nasionale Party teen alle verwagtinge in gaan wen. Hy het gesê dat, anders as wat geglo is, die Engelse Arbeidersparty hulle gaan ondersteun. Dit het presies net so gebeur en die NP het in 1924 aan bewind gekom. Maar dit is nie al nie. Siener het saam met dit ook gesê dat genl. Hertzog die fout sal maak om Smuts terug te bring op die politieke toneel en 'n gesamentlike politieke party met hom sou stig. Dit sou tot Hertzog se politieke ondergang lei. Hy het die visioen waarin hy dit gesien het aan sy vriende verduidelik. Hierin het hy twee geel honde saam in dieselfde gat sien inkruip, maar net een van hulle het later weer daar uitgekom. Die twee honde was Hertzog en Smuts, en net Smuts het weer tevoorskyn gekom – Hertzog het uit die visioen uit verdwyn.

Siener is in 1926 oorlede, maar so het die tyd en omstandighede aangestap tot in die vroeë 1930’s. Die krisis oor die Goudstandaard in 1932 het daartoe gelei dat Hertzog voelers na die amptelike opposisie begin uitsteek het rondom samewerking om die probleme op te los. Dit, saam met veral die sogenaamde “naturelle-probleem”, het uiteindelik daartoe gelei dat die NP en Smuts se South African Party (Sappe) in 1934 saamgesmelt het om die Verenigde Party te vorm. Genl. Hertzog was die leier en genl. Smuts die onderleier. Hertzog het Smuts daarmee uit die politieke woestyn gaan uithaal en hom meteens vanaf 'n relatiewe niks tot die tweede in bevel van die Unie van Suid-Afrika bevorder. Genl. Smuts het daarin geslaag om die beheer oor die VP oor te neem nadat Hertzog in September 1939 rondom deelname aan die Tweede Wêreldoorlog as leier uitgewerk is. Daar word van Hertzog gesê dat hy homself daarna as 'n verbitterde mens op sy plaas teruggetrek het. Hy het daarna heeltemal van die politieke toneel af verdwyn.

Die Bybel impliseer egter ook dat 'n profeet verstaanbaar moet wees. Profete gebruik ook kodetaal om hul boodskap mee in te klee, maar anders as waarsêers brabbel hulle nie maar net nie – hulle dra 'n boodskap oor wat heeltemal op die logiese en verstaanbare vlak lê. Die twee boeke wat op hierdie webblad aangebied word verduidelik nie net daardie boodskap nie, maar spel ook uit wat Siener se profetiese boodskap tot in sy diepste wese beteken.

Wat maak hierdie boeke anders as die res?

Die verskil lê in die benadering wat 'n mens volg, maar dan baie bepaald ook in die motiewe wat jy daarmee het. Hierdie boek benader die visioene in 'n verhaalverband, en een van die doelwitte daarmee is om die versteekte verhaal en die betekenis daarvan oop te maak. Die tipiese werkswyse wat ander "uitleggers" navolg is om telkens 'n enkele visioen in totale isolasie van die res te probeer uitlê. Dit is 'n fout, want jy kan dit nie doen sonder om die betekenis van so 'n visioen heeltemal te verbuig nie. Ons mag dit in werklikheid nie so doen nie, want Siener het 'n verhaal aan ons nagelaat, en dit beteken veral twee dinge:

Dit beteken dat daar 'n samehangende verhaal in hierdie visioene versteek moet wees, want Siener het 'n verhaal kon saamstel uit die vreemde beelde wat voor hom verskyn het. En ek dink dit is baie belangrik om hier te verstaan dat Siener hoegenaamd niks "voorspel" het nie. Hy het geen beheer gehad oor die beelde wat die Gees aan hom getoon het nie, en het bloot net aan sekere mense beskryf wat hy gesien het. Die "voorspellings" waaroor so hoog opgegee word was eintlik niks meer as net 'n kort samevatting van wat die beelde beteken nie, en hierdie samevatting bevat in werklikheid ook net sekere van die hoogtepunte van die volledige verhaal.

Maar dit beteken noodwendig ook dat ons die visioene in hul verhaalverband moét benader, anders loop ons die gevaar om ons eie storie te begin opmaak wat bloot op 'n individuele visioen gebaseer is. Elke visioengedeelte speel 'n bepaalde rol in die samestelling van die visioenêre verhaal, wat beteken dat ons geen visioen uit sy plek mag verwyder om iets anders daarvan te probeer maak as wat dit regtig is nie. En dit is waar hierdie twee boeke radikaal van enige ander ontleding van Siener van Rensburg se visioene verskil. Dit is die enigste op die mark waarin die versteekte visioenêre verhaal aangetoon word, wat in detail verduidelik hoe die verhaal tegnies saamgestel is én wat in detail verduidelik wat die verhaal beteken. Dit lewer die nodige bewyse hiervoor op 'n oorvloedige en beredeneerde wyse. Hierdie bewyse, en die argumente rondom dit, lê almal ten volle op die logiese vlak en kan inderdaad deur die leser gekontroleer word. Ek het in hierdie verband ook die moeite gedoen om 'n hele hoofstuk aan 'n gedetailleerde verduideliking van my werksmetodiek te wy. Hierdie werksmetode berus op wetenskaplike metodes wat daagliks op elke universiteit in die wêreld gebruik word om navorsing te doen. Nie een van die ander sogenaamde "kenners" het DIT al ooit probeer doen nie. Hulle kan dit in werklikheid nie bekostig nie, want dit sal hul "ernstige en deurdringende navorsing" ontbloot vir die fiktiewe snert en politieke opruiende bedrog wat dit werklik is. Die feit van die saak is dat hul ontledings geheel en al op polities-subjektiewe verwagtinge en versteekte agendas berus, wat duidelik daarop gemik is om politieke munt uit die visioene te probeer slaan. Siener se visioenêre verhaal het absoluut niks met die algemene idee van politiek te doen nie. Dit is deur die Gees ingegee en is weer deur Hom oopgemaak om die Christusgelowige te versterk en te bemoedig vir die stryd wat voorlê. Die wêreld het voor 'n onverwagse omwenteling te staan gekom en die verhaal haal die byt daarvan vir die gelowige mens uit.

Gaan na: Boek 1: Siener van Rensburg – Wat is die Waarheid? deur F.H. Pretorius.

Gaan na: Boek 2: Wat kom ná Siener? deur F.H. Pretorius.